Wat's nuut op kykNET in Julie 2026
Nuwe reekse om oor te gesels op kykNET.
Beter as Gister
Hoekom word pa’s aan ’n ander standaard as ma’s gemeet? Dít was die vraag wat die idee geplant het vir die nuwe dramareeks Beter as gister.
Beter as gister draai om vier families en fokus veral op die mans se rol in elke gesin.
Marco Fouché (Neels van Jaarsveld) is ’n toegewyde tuisbly-pa wat al vir tien jaar die huishouding bestuur terwyl sy vrou, Cecile (Rolanda Marais), haar ambisie gevolg en uiteindelik burgemeester van Kaapstad geword het. Hulle het drie kinders: die 17-jarige Jessica (Nina Strydom), die agtjarige Coenie (Gerhard Conradie) en die sesjarige Luca (Sebastian La Cock). Die Fouchés se lewe begin egter ontrafel wanneer Marco besluit om weer te begin werk.
Bernard Kruger (Frank Rautenbach) is ’n meedoënlose sakeman wat alles sal doen om sukses te behaal. Hy is getroud met Karen (Hanna Grobler), ’n saggeaarde onderwyseres, en hulle het twee kinders. Reynard (Sebastian van Niekerk) is ’n 17-jarige probleemkind, wat ’n baie swak verhouding met sy pa het. Die Krugers se jongste is Benji (Eben Kotze), wat ses jaar oud is. ’n Traumatiese voorval verander in ’n oogwink hulle lewens. Daarna moet veral Bernard herdefinieer wat dit vir hom beteken om ’n man en pa te wees.
Eben Strauss (Edwin van der Walt) is ’n liefdevolle enkelpa en skrywer. Sy dogtertjie, Lilly (Luna Coetzer), is op die outisme-spektrum, en Eben doen alles in sy vermoë om in haar behoeftes te voorsien. Eben en Lilly se lewens word deurmekaargekrap wanneer Lilly se ma, Sally (Greteli de Swardt), ná jare weer haar verskyning maak.
Tariq Cupido (Elton Landrew) is ’n nors, 62-jarige voormalige polisie-offisier en wewenaar. Hy het jare tevore sy enigste dogter uit die huis gedryf. Wanneer hy onverwags uitvind sy is oorlede en dat hy die oupa van die sesjarige Katinka (Alexis Newman) is, moet hy ’n besluit neem wat hulle al twee se lewens gaan verander.
Beter as gister begin op 30 Junie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Show'KIE
Show’KIE is ’n splinternuwe vermaaklikheidsprogram op kykNET&kie waar lag, musiek, speletjies en verrassings elke week saamkom in ’n unieke viering van talent en persoonlikheid. Onder leiding van die energieke Dean John Smith kuier kykers saam met van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars, akteurs en bekendes wat deelneem aan ’n verskeidenheid uitdagings – van trivia en improvisasie tot sang en dans. Elke episode bied iets nuuts, met speletjies en aktiwiteite wat spesiaal ontwerp is om die gaste se unieke sterk punte uit te lig en sorg vir hope pret en skaterlag-oomblikke.
Wat Show’KIE besonders maak, is die egte Kaapse geur wat deur die program vloei – van die dekor en musiek tot die mense en stories wat gedeel word. Elke gas bring ’n vriend, familielid of kollega saam, wat sorg vir eerlike gesprekke, verrassende onthullings en humoristiese herinneringe. Met sy vars formaat, uiteenlopende inhoud en warm, feestelike atmosfeer bied Show’KIE ’n ervaring propvol kleur, karakter en lekkerte wat die hele gesin kan geniet.
Show’KIE word Sondae om 19:00 vanaf 5 Julie op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Boer Soek 'n Vrou
Die 18de seisoen van Boer soek ’n vrou begin Donderdag 23 Julie op kykNET en sal oudergewoonte in die 20:00-tydgleuf uitgesaai word. In Boer soek ’n vrou se eerste episode ontmoet Reandi die eerste keer al die boere op hul plase, terwyl sy in die daaropvolgende episode hul briewe aflewer. Kykers sal dus op Donderdag 30 Julie uitvind watter vyf boere se liefdesreise hulle gaan volg.
Die boere in die 18de seisoen is:
- Arno (28) van Tzaneen, Limpopo
- David (43) van Vierfontein, Vrystaat
- Francois (34) van Hoedspruit, Mpumalanga
- Jack (30) van Hermanus, Wes-Kaap
- Jacques (32) van Nelspruit, Mpumalanga
- JD (28) van Reitz, Vrystaat
- Junior (35) van Bethlehem, Vrystaat
- Leandi (36) van Ventersdorp, Noordwes
- Luan (26) van Strydenburg, Noord-Kaap
- Willie (37) van Harrismith, Vrystaat
Donderdae om 20:00 vanaf 23 Julie op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Klippe Kou
Klippe kou is ’n inspirerende dokkie-realiteitsreeks wat vier spanne volg terwyl hulle veteraanmotors opbou en voorberei vir die uitdagende Weg! Ry & Sleep Bull Run in Vanwyksvlei. Teen die agtergrond van die ruwe Karoo-stofpaaie ontvou nie net ’n avontuur vol meganiese uitdagings en adrenalien nie, maar ook diep menslike stories van deursettingsvermoë, vriendskap en die persoonlike struikelblokke wat deelnemers in hul lewens moes oorkom. Terwyl die motors herstel en gereed gemaak word vir die finale toets, deel die deelnemers openhartig hul eie ervarings van klippe kou, wat die reeks omskep in ’n aangrypende viering van vasbyt, hoop en die krag van gemeenskap.
Woensdae om 20:00 vanaf 15 Julie op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Die Boere van Patagonië
Die Boere van Patagonië vertel die merkwaardige en byna vergete verhaal van die Afrikaners wat ná die Anglo-Boereoorlog Suid-Afrika verlaat en ’n nuwe lewe in die afgeleë landskap van Argentinië se Patagonië gaan bou het. Meer as 120 jaar later woon hul afstammelinge steeds daar – met spore van hul erfenis wat in hul taal, tradisies en kultuur voortleef. Met ’n reis deur Suid-Afrika en Argentinië ondersoek Johan Badenhorst en Kew Productions dié unieke Afrikaner-diaspora se verhaal van verlies, aanpassing, oorlewing en identiteit. Van die uitdagings om ’n nuwe bestaan in ’n vreemde wêreld te skep tot die behoud van Afrikaans, Boeremusiek en ou familietradisies, blaas dié vyfdelige dokumentêre reeks nuwe lewe in ’n aangrypende stuk geskiedenis en vra dit belangrike vrae oor herkoms, kultuur en die toekoms van Afrikaans in Patagonië.
Die Boere van Patagonië begin 19 Julie om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Lottoland: Help ’n Dorp
Die nuwe seisoen van Lottoland help ’n dorp plaas weer die kollig op die hart, veerkragtigheid en gemeenskapsgees van Suid-Afrika se kleiner dorpe. In seisoen 5 reis Leah en die span na Luckhoff, Concordia, Middelburg, Reitz, Uniondale en Wakkerstroom, waar toegewyde plaaslike projekspanne inspring om betekenisvolle verandering in hul gemeenskappe teweeg te bring. Van opgraderings by skole, sportgeriewe en erfenisruimtes tot dorpsverfraaiing, die skep van groen ruimtes en broodnodige herstelwerk – elke dorp bring sy eie uitdagings, drome en terugslae. Die seisoen sluit af met ’n spesiale terugblik op vorige transformasies en die blywende impak van die projek.
Dinsdae 21:30 vanaf 7 Julie op kykNET (DStv-kanaal 144)
Safari-Roetes S4
Aanhangers van die buitelewe kan regmaak vir hope aksie en asemrowende landskappe wanneer Petri de Wet en die Safari-roetes-span ’n splinternuwe avontuur aanpak. In die vierde seisoen durf die span uitdagende roetes aan wat kykers sal wegvoer na van die mees skouspelagtige en ongerepte bestemmings in Suider-Afrika. Met ’n perfekte kombinasie van rowwe 4x4-aksie, natuurervarings wat murg in die pype verg, en die onmisbare kampvuurkuiers beloof Petri-hulle om die ware gees van Afrika-avontuur na die kassie te bring.
Die Safari-4x4-span doen hierdie jaar ’n emmerskoplys-toer deur die Noord-Kaap. Hulle verken verskeie bergpasse, duine, strande, skeepswrakke en woestynareas en beweeg selfs teen die Oranjerivier af.
Vrydae 17:30 vanaf 3 Julie op kykNET (DStv-kanaal 144)
Hey Skipper S1
Vir avontuurlustige kykers en natuurliefhebbers is Dewald Visser ’n bekende gesig. In Mal kamper het hy die land platgereis en met sy energieke avonture kykers geboei. In die splinternuwe reeks Hey Skipper seil, roei en duik Dewald by van die mooiste plekke in die wêreld: van Thailand tot Mosambiek. Hy swem saam met robbe en dolfyne, span uit op ’n luukse huisboot en verken grotte doer anderkant die waters. Die program wys ook hoe riviere en oseane teen plastiek beskerm word, hoe swart vullissakke van herwinde plastiek gemaak word en hoe rommel in Durban uit ’n rivier gehaal word. Dewald nooi kykers om saam in sy unieke avonture te deel: van seester- en seeperdjie-ervarings tot slaap op hout-chalets wat op die water dryf.
Saterdae 18:00 vanaf 4 Julie op kykNET (DStv-kanaal 144)
Die Broer Toer S2
Wat gebeur wanneer drie broers, ’n paar klassieke motors en meer selfvertroue as gesonde verstand bymekaarkom? Jy kry Die broertoer – DAKAROO. Die Fourie-sibbe – Bennie, Reynold en Wilbrie – is terug vir ’n tweede seisoen, en dié keer probeer hulle om die Karoo plat te ry. Met elke kilometer wag daar nuwe uitdagings, onverwagte karprobleme, twyfelagtige navigasiebesluite en die soort kompetisie tussen broers wat gewoonlik eindig met iemand wat leedvermakerig verklaar: “Ek het mos vir jou gesê.” Tussen asemrowende landskappe, onvergeetlike tonele en baie lag, raak die Fourie-drie se reis ’n viering van avontuur, komedie en nostalgie.
Saterdae 18:30 vanaf 4 Julie op kykNET (DStv-kanaal 144)
4x4 met André S5
4x4-entoesiaste en natuurliefhebbers geniet al vir vier seisoene die gewilde André de Villiers se raad en stories. In die vyfde seisoen van 4x4 met André durf hy die ruwe en asemrowende landskappe van Namibië aan. Elke roete bring nuwe avonture, tegniese 4x4-wenke en onverwagte ontmoetings met wilde diere en plaaslike mense. Almal is genooi om na André se stories te kom luister, maar dié wat self nuwe terreine in die natuur beproef, sal baie uit sy praktiese raad oor veldry, voertuie en uitspan in die natuur put.
Maandae 17:30 vanaf 6 Julie op kykNET (DStv-kanaal 144)
Jan Braai vir Erfenis S16
Uitstekende vleis, lekker braairesepte en kreatiewe nuwe idees in die heel mooiste natuurskoon is gewaarborg in elke seisoen van Jan Braai vir erfenis. Die nuwe 16de seisoen skop af in Zimbabwe, waar Jan en die Ontspan (sy gedugte televisiereisspan) die land se toptoerismebestemmings verken, soos die Hwange-natuurreservaat, Kariba-meer en die Victoria-watervalle. Daarna pak hulle ’n wye sloertoer deur die Noord-Kaap aan. Hulle besoek klein dorpies, ontmoet interessante karakters en ontdek die unieke geure, geskiedenis en gasvryheid wat elke plek sy eie identiteit gee. Waar hulle ook al kom, word daar oudergewoonte vuur aangesteek. Volgens Jan is dit oor die afgelope 16 jaar die reeks waarin daar ongetwyfeld die meeste kere gebraai is.
Saterdae 19:30 vanaf 11 Julie op kykNET (DStv-kanaal 144)
Elders: Viëtnam S8
Is Viëtnam op jou emmerskoplys? Indien nie, sal die nuwe agtste seisoen van Elders jou dalk vinnig laat herbesin wanneer dit op Sondag 19 Julie om 20:00 op kykNET afskop. Die vorige seisoen, Elders: Ligtoringroete, is vroeër vanjaar met ’n Safta-toekenning bekroon – die tweede een vir die geliefde Elders-reeks. In hierdie splinternuwe seisoen verlaat die stapper en skrywer Erns Grundling sy gemaksone vir ’n epiese reis van noord na suid om Viëtnam se natuurskoon, ryk geskiedenis, vriendelike mense en smullekker kos met kykers te deel.
Die aksie begin in Hanoi en beweeg na plekke soos Sa Pa, naby die grens van China, gevolg deur ikoniese bestemmings soos Ha Long Bay, Ninh Binh, Phong Nha se grotte en Ho Chi Minh-stad. Die reeks is oor veertig dae deur Bonanza-produksies verfilm. Hoewel Erns sy vrou en tweelingseuntjies vreeslik gemis het, beskryf hy dit as ’n enorme voorreg om sy passie vir reis en stories saam met ’n fantastiese kameraspan uit te leef.
Sondae 20:00 vanaf 19 Julie op kykNET (DStv-kanaal 144)
Moer ’n Boer S3
Maak gereed vir die grootste en taaiste seisoen van Moer ’n boer nog. Vanaf 18 Julie om 20:00 bars seisoen drie amptelik los op kykNET (DStv-kanaal 144). Hierdie is nie sommer net nog 'n sportreeks nie – dit is die platform waar die onblusbare Afrikaner-gees, brute krag en die hegte bande van ons plattelandse gemeenskappe mekaar ontmoet.
Moer ’n boer volg 20 gewone boere wat gemengde gevegkuns leer, oftwel MMA (mixed martial arts), en hul eie grense in ’n ses maande lange reis na die kryt toets. Hulle ontdek hoe ver moed, deursettingsvermoë en kameraadskap ’n mens kan dra, maar uiteindelik kan net een as die Moer ’n boer-kampioen wegstap.
Saterdae om 20:00 vanaf 11 Julie op kykNET (DStv-kanaal 144)
SKRYF IN: Kokkedoor: Klassiek
Kokkedoor: Klassiek bied ’n platform propvol uitdagings, wat deelnemers se vaardighede voor die stoof ongetwyfeld met rasse skrede gaan verbeter en hulle dikwels die geleentheid gaan gee om hulself te oortref.
Onder die bekwame leiding van ervare, bekende kosmense gaan hierdie die kulinêre avontuur van ’n leeftyd wees. Deelnemers gaan nuwe vriende maak, nuwe tegnieke leer en die geleentheid kry om te wys hoe hulle met enige gereg kan toor.
Aanbieders Herman Lensing en Jess van Dyk is onlangs aangekondig.
Het jy nog aanmoediging nodig om in te skryf? Daar is ’n miljoen redes om in te skryf – in die vorm van R1 miljoen se prysgeld vir die wenspan. En daardie gesogte Goue Haan wat weer ’n nuwe huis soek.
Wat om te weet as jy wil inskryf:
- Kry die inskrywingsvorm by kyknet.tv of stuur ’n e-pos aan navrae@kokkedoor.tv
- Sluitingsdatumvir inskrywings: 12 Julie 2026
- Jy moet ten minste 18 jaar oud wees op die dag van die oudisie
- Net Suid-Afrikaanse of Namibiese burgers met ’n geldige ID-dokument kan inskryf
- Jy kannie as deel van ’n span inskryf nie
- Oudisiessal in Kaapstad gehou van 13 tot 17 Julie 2026