Christia Visser verras dalk kykers in Diepe Waters

Highlights 04 June 2026

Christia Visser keer terug na Diepe Waters en ’n mens kan nie help om te wonder of dinge dié keer anders vir Rossouw gaan uitdraai.

Christia Visser verras dalk kykers in Diepe Waters

“Nee, moenie haar vertrou nie!” en “Rossouw gaan weer sy kop stamp” gaan dit waarskynlik op sosiale media gons wanneer Alisa (Christia Visser) weer in Rossouw (Altus Theart) se lewe opdaag in Maandag 8 Junie se episode van kykNET se Diepe Waters (DStv-kanaal 144).

Haar kêrel, Bert (Arno Marais), het glo uit die tronk uit ontsnap en by Alisa se woning opgedaag. Nou het sy by Rossouw aangeland om haar te help wegkruip totdat sy land uit kan vlug. Maar hoekom nie die polisie bel nie?

’n Groot vraag bly by die kykers ontstaan: Kan Rossouw Alisa se stories dié keer glo?

“Dit is só lekker karakter om te speel, want sy het al so baie foute in haar lewe gemaak en baie goed gedoen omdat sy in vrees gelewe het,” verduidelik Christia.

“Daarmee kan ’n mens relate, want ek het ook al foute gemaak omdat ek opgetree het volgens iemand anders se morele standaarde omdat ek bang was ek word nie aanvaar nie,” voeg sy by.

Christia voel Alisa het vir ’n baie lang tyd haar emosies afgesny om te oorleef, maar sy is ’n sensitiewe mens.

“Ek het baie lief geraak vir hierdie karakter oor die tyd wat ek haar gespeel het, want sy het soveel lae en vlakke. Daar is soveel goed wat jy nooit op die kamera sien nie, wat sy nooit gaan sê nie, maar sy gee werklik om,” vertel Christia.

Daaraan sluk kykers nog swaar. Veral ná die trauma waardeur sy Rossouw gesleep het. Of die verraad met Sanet (Nadia Valvekens), of Rossouw en Anja se verhouding wat skipbreuk gely het as gevolg van Alisa.

“As akteur is dit lekker om Alisa te speel, want daar is soveel fasette aan haar; daar is leuens én waarhede. Jy kan toneelspeel binne die toneelspel,” vertel Christia.

“Natuurlik gaan daar mense wees wat sê: ‘Ag nee, daar doen sy al weer dít!’ Maar ons almal het al goed gedoen waarmee mense nie saamstem nie. Dit is vir my lekker om haar motivering vir dinge te kan uitpluis.”

Christia was al voorheen te sien in groot flieks soos Hollywood in my huis en Ballade vir ’n enkeling en TV-reekse soos Die Boekklub en Fynskrif. Tog bly die sepie- en telenovelle-medium vir haar interessant en treffend.

“Ek het ADHD (aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom), so ek hou daarvan om vinnig te beweeg. En sepies skiet vinnig, so dit pas my perfek,” lag Christia.

 

 

“Die verskil op so ’n produksie is dat die mense nou al almal daar lank saamwerk, dat jy ’n soort gemak in die sisteem voel,” voeg sy by.

Omdat haar storielyn en tonele soms wild en uitdagend kan raak, is sy bly dat meeste daarvan met Altus gebeur.

“Altus is ’n verskriklike nice mens. Omdat daar rowwe tonele en goeters is, sal hy altyd by my in-check. Hy sal hoor is ek oukei, kan hy met iets help? En as hy dink iets gaan moeilik wees, sal hy seker maak ek is gemaklik,” verduidelik Christia.

“Jy kry sekere akteurs waarteenoor jy toneel speel, waar die tonele net maklik rol. Jy hoef nie veel te dink nie, jy kan net act. Jy kan net van mekaar af speel en dit werk. Ek en Altus het daardie verstandhouding.”

En die kykers se reaksies op haar karakter?

“Daar is beslis ’n mate van bewustheid van wat die kyker gaan sien, want ek wil haar nie oppervlakkig laat voorkom nie. So daar is sekere oomblikke wat ek kies, waar ek sekere emosies wil uitbeeld,” verduidelik Christia.

“Ek wil hê die kykers moet dan empatie met haar kan hê, sodat hulle kan verstaan hoekom sy sekere goed doen,” sê sy.

Dalk, net dalk, verras Alisa dié keer vir kykers.

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.

Back to News

Download and watch later

Get the DStv app (Apple or Android) and download episodes to watch on your phone or tablet – just remember to connect to the Wi-Fi first so there are no surprise data costs.

Devices