Dean John Smith skitter in Show'KIE

Highlights 04 June 2026

Skuif nader – dis amper tyd vir Dean John Smith se Show’KIE met eg Kaapse flair.

Dean John Smith skitter in Show'KIE

Dean John Smith is omtrent ’n verkleurmannetjie. Hy’s die gawe, aantreklike Wade wat in Suidooster die harte so laat fladder. Hy’s ook daai skreeusnaakse Bettie wat so lekker en snaaks kan klets en skinder. En nou gaan hy sy lyf ook aanbieder hou.

Dean gaan die gelag, pret, vermaak en plesier orkestreer in ’n splinternuwe vermaakprogram vir kykNET&kie genaamd Show’KIE.  The show must go on mos, en jy gaan wens dié Show’KIE wil nooit ophou nie.

Dean gaan kuier en speel met van die lekkerste van lekker mense – onder andere, Jawaahier Petersen, Shimmy Isaacs, Tollie Parton, Early B, Melissa de Vries, Loukmaan Adams, Veronique Jephtas, Beer Adriaanse, die Temple Boys en Mienke Ehlers.

Die ervare Pedro Kruger is die inhoudsvervaardiger, en hy slyp al lank sy tande vir die geleentheid om iets vars en nuuts binne hierdie formaat te skep.

“Die idee vir so ’n vermaaklikheidsprogram het al geruime tyd in my kop gewoel, maar soms keer ’n mens se loopbaan of kapasiteit dat daar tot aksie oorgegaan kan word. En toe die vervaardigers, Homebrew Films, my geskakel het oor Show’KIE, was die tyd reg. Ek móés dit net doen.”

Daar is lang en diep gesprekke gevoer oor hoe so ’n splinternuwe konsep sou kon werk.

“Ek sê altyd ‘be inspired, but do not copy’, en dit was van die begin af my uitgangspunt,” vertel Pedro.

Get DStv  

 

Vir die eerste reeks se 13 episodes is daar omtrent 17 verskillende speletjies ontwikkel. “Party sal jy amper-amper herken, maar ons het hulle in die ontwikkelingsfase heeltemal op hulle koppe gedraai om dit vars, nuut en vermaaklik te hou,” sê Pedro. “Jy kan uitsien na trivia, dans, sang, improv en vele ander tipes speletjies en uitdagings. Almal is gebou om elke spesifieke episode se gas en daardie gas se sterk punte, en al die speletjies is ontwikkel om jou te laat skaterlag.”

Wat Show'KIE uniek maak, is dat nie een episode dieselfde lyk nie.

“Dis nie ’n copy-and-paste-tipe program nie,” beklemtoon Pedro. “Dis ’n klomp puzzle-stukke wat almal verskillend gebruik word om 13 verskillende puzzles te bou. Dis ’n program waar ons die gaste persoonlik leer ken. Elke gas bring ook iemand saam wat hulle baie goed ken – ’n vriend, familielid of kollega. So, daar word vir seker lekker uitgepraat. Die gaste vertel van hulle komvandaan, fobies en gunstelingdinge en deel snaakse ervarings in hulle loopbane.”

Die Kaapse flavour word behoorlik gevier – met inhoud, dekor en die klanke van die Show’KIE-band.  Pedro beskryf die program as ’n egte Kaapse breyani of ’n Kersfeestrifle, vol verskillende geure, kleure en bestanddele.

Ben Heyns, die regisseur en mede-vervaardiger, is ook vol lof vir Dean.

“Ek dink hy is so talentvol, hy is dinamies en so energiek! Hy’s flink op sy voete met skerp en slim sê-goed wat so natuurlik kom. Boonop probeer hy nie eers hard nie,” sê Ben.

“Dit gaan definitief kykers laat rol soos hulle lag en hul Sondae-aande behoorlik opkikker.”

Wat dink Dean van dit alles?

Hy som dit in drie woorde op: Energiek, verskeidenheid en lékker!

“Ek wil net hê mense moet weet as jy glo in iets; as jy aanhou droom; as jy bereid is om op te offer vir wat jy wil bereik in die lewe, dan kán jy dit bereik,” sê hy.

“Dis nie noodwendig net wat jy eendag wil wees nie, maar is meer van wat is jy bereid om op te offer om daar uit te kom. En dit is soms die verskil wat mense van mekaar onderskei: die uithouvermoë, die vasberadenheid om dit te wíl doen en te bereik.”

Dean sê hy is steeds opgewonde en gemotiveerd om ’n beter weergawe van homself te ontwikkel. En Show’KIE is een groot tree vorentoe op daardie pad.

Show’KIE word Sondae om 19:00, vanaf 5 Julie, op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Back to News

Download and watch later

Get the DStv app (Apple or Android) and download episodes to watch on your phone or tablet – just remember to connect to the Wi-Fi first so there are no surprise data costs.

Devices