Bennie Fourie en sy broers durf die Karoo in klassieke motors aan
Die Fourie-broers is terug met 'n nuwe seisoen van Die Broer Toer DAKAROO. Bennie, Reynold en Wilbrie verruil hul motorfietse vir nostalgiese klassieke motors.
Drie broers, klassieke motors en die kuns om jouself in die moeilikheid in te bestuur: kykers kan uitsien na Die Broer Toer Dakaroo vanaf Saterdag 4 Julie om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Wat gebeur wanneer drie broers, ’n paar klassieke motors en meer selfvertroue as gesonde verstand bymekaar kom? Jy kry die splinternuwe seisoen van Die Broer Toer. Die Fourie-broers, Bennie, Reynold en Wilbrie, is vasbeslote om die Karoo plat te ry, maar hierdie keer verruil hulle hul motorfietse vir die soort ou motors wat Suid-Afrikaanse kinders van die 70’s en 80’s laat droom het – en wat hul pa’s waarskynlik vandag nog weier om te verkoop.
Nuwe roete
Oor die loop van 10 opwindende episodes word kykers meegesleur op ’n reis vol onvoorspelbare kinkels, meedoënlose kompetisie en egte Karoo-gasvryheid. Die nuwe roete neem die broers na asemrowende plekke, uitdagende bergpasse en oorstroomde riviere, met die uiteindelike eindbestemming in die magiese Tankwa-Karoo. Met elke kilometer wag daar nuwe uitdagings, onverwagte karprobleme, twyfelagtige navigasie-besluite en die soort broerlike kompetisie wat gewoonlik eindig met iemand wat sê: ‘Ek het mos vir jou gesê.’ Want ten spyte van al die reise, weet hulle steeds nie wie die beste broer is nie.
Klassieke motors
Hierdie reis skop af met die broers wat hul klassieke motors op die enigste manier wat hulle ken kies – deur harde kompetisie. Die pad roep, maar onverwagte reën bring gou groot moeilikheid in die gewoonlik droë Karoo. Ná die vloede is die broers gelukkig weer op die pad, waar hulle terugkyk op alles wat sedert die laaste toer gebeur het. Maar nostalgie moet wag wanneer die eerste strawwe van die seisoen uitgedeel word.
Soos die reis dieper die binneland in beweeg, pak die broers een van hul grootste uitdagings nóg aan wanneer hulle met hul klassieke voertuie die Baviaanskloof invaar. Bennie se motor gee egter reeds voor die pas moeilikheid, wat die reis in ’n uiterste kragmeting verander. Ná die Baviaanskloof sit hulle hul reis deur die Oos-Kaap voort, waar nuwe uitdagings opduik soos die kilometers verbyrol, en die kompetisie tussen die broers al hoe meer intens raak.
Broerlike wedywering
In Cradock verruil die broers tydelik hul klassieke motors vir perde en trek die veld in vir ’n jagtog om hul vaardighede behoorlik op die proef te stel. Tussen die uitgestrekte landskappe en nuwe uitdagings word hul uithouvermoë behoorlik getoets. Die toer gaan daarna voort na Graaff-Reinet vir ’n unieke Markdag-uitdaging. Met trots en spogregte op die spel, raak die broerlike wedywering gou al hoe warmer.
Die pad lei die broers verder na Elandsrus en die uitgestrekte Fraserburg-vliegveld, waar taai uitdagings hul deursettingsvermoë toets. Op pad na Sutherland begin die einde van die toer uiteindelik in sig kom; herinneringe word gedeel, ou geskille word uitgeklaar en die stryd om die uiteindelike spogregte raak strawwer as ooit. Die laaste deel van die reis neem die broers eindelik die Tankwa in. Omring deur asemrowende landskappe kyk hulle terug op ’n onvergeetlike avontuur.
Tussen asemrowende landskappe, onvergeetlike tonele en baie lag ontdek die broers dat die beste stories nie by die bestemming wag nie – dit gebeur langs die pad. Die Broer Toer is ’n viering van avontuur, komedie, nostalgie en die pure kuns om jouself in die moeilikheid in te bestuur!
Die Broer Toer l 144). Dit sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.begin Saterdag 4 Julie 18:30 op kykNET (DStv-kanaa