Boer soek ’n vrou: Reandi vertel wat jy van die 18de seisoen kan verwag
Dis sowaar byna tyd vir die 18de seisoen van kykNET se gewildste maatsoekreeks Boer soek ’n vrou, wat op Donderdag 23 Julie begin.
Die nuwe deelnemers het rede om hoopvol te wees, want sedert die eerste episode in September 2008 het baie boere wat alleen op moedverloor se vlakte geboer het, ’n ware pasmaat gevind. Boonop is daar op baie van die plase reeds ’n volgende generasie, nog klein maar ewe vasberade, wat oorgehaal is om die fynere kuns en uitdagings van boerdery die stryd aan te sê.
Reandi Grey het in die 17de seisoen vir die eerste keer as aanbieder agter die Boer soek ’n vrou-bakkie se stuur ingeskuif en derduisende kilometers landwyd afgelê om die hoopvolles van naderby te leer ken. Met haar fyn sin vir humor en warmte vir die boere, het sy diep in sowel die boere as die kykers se harte ingeklim, selfs al was haar stewels soms vol modder.
Daarom het dit net sin gemaak om haar weer deel van die nuwe oes boere se soeke na liefde te maak.
Maar hoe het sy die eerste seisoen ervaar, en het sy dalk ’n waardevolle les of twee in die proses geleer?
Lesse geleer
“Die een ding wat ek geleer het, is dat jy rêrig jouself moet vertrou oor waar jy is in jou lewe. Dit maak nie saak wat die situasie is nie, jy gaan altyd iets hê om te gee.”
Wat haar gehelp het om die boere en voornemende pasmaats op hul gemak te stel, was om hulle daarop te wys dat hulle nie alleen hoef te voel nie, want dis ook haar eerste keer in die reeks.
“Ons leer saam,” het sy graag vir hulle gesê.
“Nou, met die tweede seisoen, kon ek dit nie vir die deelnemers sê nie, maar ek kon vir hulle heelwat ánder dinge sê omdat ek nou weet hoe dit werk.”
Vir haar is dit belangrik dat die deelnemers moet besef dat hulle op die regte tyd op die regte plek is.
“Moenie wens vir meer ervaring of dat jy op ’n ander plek moes wees nie. Elke plek waar jy is, is op ’n spesifieke tyd reg en dit kom met sy eie handige hulpbronne.
“Jy moet die proses vertrou, ongeag of jy die boer of die pasmaat is. Balans is óngelooflik belangrik, en jy moenie dinge té vinnig probeer aanjaag nie. Maar moet ook nie op jou louere rus nie, want daar is net soveel tyd.”
En die tweede seisoen?
“Daar was ’n hele paar verrassings wat niemand sien kom het nie – en ek dink dit gaan vir die kykers ook baie lekker wees om te sien.”
Maar oor wat daardie verrassings is, swyg sy natuurlik soos die graf.
Sy beskryf die tien boere as “besonderse, unieke en andersoortige persoonlikhede” en voeg by: “Wat die program so mooi maak, is dat dit nie saak maak wie jy is, wat jou agtergrond is en hoe jy dink oor die lewe of die liefde of die boerdery nie – die feit van die saak is álmal soek ’n maat, iemand om die lewe mee te deel.”
Hoekom bly Boer soek ’n vrou so gewild?
“Eerstens omdat ons met boere werk – mense wat die sout van die aarde is. Tweedens werk ons met die liefde wat ’n universele taal is – iets wat almal wil hê en iets wat almal verstaan.
“Veral in vandag se tyd, waar alles meganies word, instant gratification, robotgedrewe, die spoed waarteen mense lewe en voel of hulle nie kan bybly nie – die landbougemeenskap is nie so nie. Dis nog kaalvoet-, plat-op-die-aarde, geduldige, rustige, liefdevolle mense wat nog tyd vir mekaar het en wat tyd maak vir mekaar. Dis die mense wat nog die sonsopkoms, die reuk van vars gesnyde gras, ’n oes en beesmis waardeer.
“Ek dink dis iets waarna so baie mense in 2026 hunker – na die goeie ou dae. En boere en landbou voel vir my soos die goeie ou dae.”
Die boere vir die 18de seisoen is:
- Arno (28) van Tzaneen, Limpopo
- David (43) van Vierfontein, Vrystaat
- Francois (34) van Hoedspruit, Mpumalanga
- Jack (30) van Hermanus, Wes-Kaap
- Jacques (32) van Nelspruit, Mpumalanga
- JD (28) van Reitz, Vrystaat
- Junior (35) van Bethlehem, Vrystaat
- Leandi (36) van Ventersdorp, Noordwes
- Luan (26) van Strydenburg, Noord-Kaap
- Willie (37) van Harrismith, Vrystaat
Die reeks word vanaf 23 Julie 2026 oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.