Jean Henry en Altus Theart groet Diepe Waters

kykNET 23 September 2026

Kykers van kykNET se gewilde telenovela Diepe Waters groet hierdie week twee bekende gesigte wanneer Jean Henry en Altus Theart hul storielyne afsluit.

Jean Henry en Altus Theart groet Diepe Waters

Kykers van kykNET se gewilde telenovela Diepe Waters groet hierdie week twee bekende gesigte wanneer Jean Henry en Altus Theart hul storielyne afsluit. Jean Henry (Arno) maak sy finale verskyning op Woensdag, 23 September, terwyl Altus Theart (Rossouw) sy laaste buiging op Donderdag, 24 September maak.

Alhoewel albei karakters Boskruin onder heel verskillende omstandighede verlaat, merk hul vertrek betekenisvolle keerpunte waar elkeen kies om 'n nuwe koers in te slaan.

Teken in op DStv  

Arno kies 'n nuwe begin

Arno, gespeel deur Jean Henry, se storie kom tot 'n einde wanneer 'n moeilike persoonlike hoofstuk sy slot bereik. Ná die tragiese verlies van hul baba en die swaar druk wat daarop gevolg het, bereik Arno en Karla se huwelik 'n breekpunt. Op soek na 'n nuwe begin en met die begeerte om op haar swemloopbaan te fokus, vra Karla aanvanklik vir 'n egskeiding op grond van "onversoenbare verskille".

Dinge neem egter 'n wending toe Arno per ongeluk by Nina uitvind dat Karla ’n buite-egtelike verhouding met Fouche gehad het. Met die wete dat die vertroue tussen hulle vir goed gebreek is, neem Arno die besluit dat hy heeltemal klaar is met die verhouding.

Hy pak sy klere en besittings, en in die laaste toneel, haal hy sy trouring af, laat dit op die bedkassie agter, en stap uit op pad na Helder Hoop om sy lewe te herbou.

Jean voel dat sy karakter 'n goeie man is wat net ongelukkig in sy lewe was. “Arno het deur baie hartseer, verandering en struikelblokke gegaan, en tog het sy uitkyk op die lewe positief gebly,” sê hy. “Ongelukkig het dinge nie in sy huwelik uitgewerk nie, en ek hoop die man vind die regte persoon op sy reis buite Boskruin.”

Vir Jean was die laaste storielyn met die miskraam en die egskeiding die moeilikte om te skiet. “Dit was ook moeilik om te sien hoe sy ma met haar siekte agteruitgaan, en om sy pa se afsterwe te beleef,” verduidelik hy. “Die man gaan deur 'n moeilike tyd, en almal om hom het óf gesterf, óf siek geword, óf oorsee gegaan, óf van hom geskei.”

Gelukkig verskil Jean se werkllikheid hemelsbreed van sy karakter s’n. Hy is gelukkig getroud, en het ’n paar maande gelede vir die tweede keer pa geword.

Vir hom was dit 'n voorreg om elke aand na kykers se sitkamers genooi te word. “Ek hoop my toneelspel en my karakter het 'n spieël voor julle oë geplaas, sodat julle jul eie emosies en ervarings beter kan verstaan. Dankie vir al julle ondersteuning. Julle sal my weer sien — volgende keer as 'n ander karakter, in 'n ander storie,” is sy afskeidsboodskap aan kykers.

Rossouw ruil die kantoor vir die dansvloer

Ná die pynlike verlies van sy halfsuster, Pam (Tracey-Lee Oliver), neem Rossouw tyd om te besin en besef hy dat die lewe te kort is om vasgekeer te wees in ’n werk wat hom nie vreugde bring nie. Alhoewel hy nog altyd 'n kop vir syfers gehad het en 'n loopbaan as rekenmeester opgebou het, was dit nooit sy ware passie nie. Hy voel vry en vervul wanneer hy dans.

Daardie besef tref hom eers werklik toe sy "Toppie Tango" op die internet viraal gaan. Nadat hy sien hoeveel vreugde sy optrede vir 'n groep plaaslike tieners bring, besluit Rossouw dis tyd om sy ware passie te volg.

Toe hy uitvind dat 'n bestaande dansskool-franchise in Kaapstad te koop is, besluit hy om die sprong te waag. Hy koop die besigheid en pak sy tasse vir die Moederstad.

Vir Altus was dit wonderlik om te sien hoe sy karakter gegroei het. “Van ‘stywe’ Rossouw met die bril en ingesteekte hemde tot sy meer rocker vibe. Sy en Anja (Reandi Grey) se reis om mekaar weer te vind na al die jare en al die geraamtes in die kas wat uitgekom was beslis ook ’n hoogtepunt. En dan vir seker ook die ontvoering deur Candy (Christia Visser) en Bert (Arno Marais)!

Hy onthou al die goeie tye saam met sy mede-akteurs: “Dit was altyd ’n uitdaging om teenoor Werner Coetser (Jacques) en Justin Strydom (Gys) te speel om ons pose te hou in die toneel want ons wou net die heeltyd lag omdat ons mekaar so goed ken!”

Hy is ook dankbaar vir die kykers se jarelange ondersteuning. “Dit was julle wat Diepe Waters so gewild gemaak het en ons is oneindig baie dankbaar daarvoor!”

Wat voorlê vir Boskruin

Terwyl die Boskruin-gemeenskap by hierdie nuwe werklikheid aanpas, sal die rimpelakties gevoel word. Met Jacques wat intree om die finansiële en operasionele uitdagings wat agtergebly het te bestuur, en Karla wat haar toekoms sowel in as buite die swembad moet navigeer, kan kykers uitsien na boeiende nuwe dinamika wat in die komende weke gaan ontvou.

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.  

Teken in op DStv  

Back to News

Download and watch later

Get the DStv app (Apple or Android) and download episodes to watch on your phone or tablet – just remember to connect to the Wi-Fi first so there are no surprise data costs.

Devices