Hoogtepunte: Junie 2026
Nuwe drama, realiteit, leefstyl en sepies.
Nuwe dramareeks: Beter as gister
Beter as gister begin op 30 Junie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Hoekom word pa’s aan ’n ander standaard as ma’s gemeet? Dít was die vraag wat die idee geplant het vir die nuwe dramareeks, Beter as gister, wat 30 Junie op kykNET (DStv-kanaal 144) begin.
Corné en René van Rooyen, bekend as skrywers en regisseurs van reekse soos Alles Malan en Summertide, is vir dié nuwe reeks van dertien episodes verantwoordelik. Tascha van der Westhuizen is, soos met al Red Letter Day Pictures se produksies, ook aan boord as vervaardiger.
Beter as gister draai om vier families en fokus veral op die mans se rol in elke gesin.
Marco Fouché (Neels van Jaarsveld) is ’n toegewyde tuisbly-pa wat al vir 10-jaar die huishouding bestuur terwyl sy vrou, Cecile (Rolanda Marais), haar ambisie gevolg en uiteindelik burgemeester van Kaapstad geword het. Hulle het drie kinders: die 17-jarige Jessica (Nina Strydom), die agtjarige Coenie (Gerhard Conradie) en die sesjarige Luca (Sebastian La Cock). Die Fouchés se lewe begin egter ontrafel wanneer Marco besluit om weer te begin werk.
Bernard Kruger (Frank Rautenbach) is ’n meedoënlose sakeman wat alles sal doen om sukses te behaal. Hy is getroud met Karen (Hanna Grobler), ’n saggeaarde onderwyseres, en hulle het twee kinders. Reynard (Sebastian van Niekerk) is ’n 17-jarige probleemkind, wat ’n baie swak verhouding met sy pa het. Die Krugers se jongste is Benji (Eben Kotze), wat ses jaar oud is. ’n Traumatiese voorval verander in ’n oogwink hulle lewens. Daarna moet veral Bernard herdefinieer wat dit vir hom beteken om ’n man en pa te wees.
Eben Strauss (Edwin van der Walt) is ’n liefdevolle enkelpa en skrywer. Sy dogtertjie, Lilly (Luna Coetzer), is op die outisme-spektrum, en Eben doen alles in sy vermoë om in haar behoeftes te voorsien. Eben en Lilly se lewens word deurmekaargekrap wanneer Lilly se ma, Sally (Greteli de Swardt), ná jare weer haar verskyning maak.
Tariq Cupido (Elton Landrew) is ’n nors, 62-jarige voormalige polisie-offisier en wewenaar. Hy het jare tevore sy enigste dogter uit die huis gedryf. Wanneer hy onverwags uitvind sy is oorlede en dat hy die oupa van die sesjarige Katinka (Alexis Newman) is, moet hy ’n besluit neem wat hulle al twee se lewens gaan verander.
Nuwe seisoen: Lamb Champs 2
Lamb Champs word vanaf Woensdag 10 Junie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Die dokumentêre reeks Lamb Champs keer terug vir ’n tweede seisoen op kykNET (DStv-kanaal 144) vanaf Woensdag 10 Junie om 20:00. Hierdie vyf-episode-reeks, getiteld Lamb Champs: Die kuns van skaapboerdery, plaas die Suid-Afrikaanse kleinveegemeenskap in die kollig. Minki van der Westhuizen is weer die aanbieder.
Die reeks neem kykers op ’n nasionale plaasreis – van Kimberley se uitgestrekte, droë vlaktes tot Pretoria se tuisgrond by Loftus, waar die spanning in die lug hang soos rook oor kole terwyl lammers oor die vlamme draai. In Parys vloei die eerlike en rou stories van boere uit die hart, terwyl die Paarl se ryk erfenis en wingerde die belofte van nuwe horisonne bring.
10 Junie
Van uitgestrekte Karoo-landskappe tot intensiewe boerdery in die Vrystaat, ontmoet ons vier boere wie se stories van familie, veerkragtigheid, liefde en erfenis die kuns van skaapboerdery mooi illustreer.
17 Junie
Ons volg JP Nel van Vryburg, ’n gedrewe Dorper-boer. Ervare boere deel strategieë agter sukses met lamtyd en pesbeheer, en ons sien hoe voorbereiding en toewyding uiteindelik op die proef gestel word.
24 Junie
Ons volg Hennie Jonker, ’n passievolle Hampshire Down-stoetboer wat, met beperkte grond tot sy beskikking, bewys dat sukses nie in die grootte van die plaas lê nie, maar in aanpasbaarheid en deursettingsvermoë.
Fliekdebuut: Finding Optel
Finding Optel maak sy kykNET-debuut op 13 Junie om 20:00 en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Die 16-jarige amateurspeurder Claire Abrahams vind haar buurt se verlore goed. Wanneer die buurt se geliefde hond Optel verdwyn, is Claire vasbeslote om haar op te spoor. Die soektog krap onverwags ou wonde oop wanneer Claire op leidrade afkom wat met haar ouer broer, Jonah, se verdwyning verband hou. Hy word al nege jare lank vermis. Deur vreemde omstandighede en nuuskierige bure, raak die twee sake vervleg. Claire se pa, John, is bekommerd dat sy haarself in gevaar stel. Hy probeer om haar speurwerk stop te sit, maar sy is vasberade en onstuitbaar. Claire sny die spoor deur verdriet en hoop agter Optel en die waarheid oor Jonah se verdwyning aan.
Met Mikayla Brown, Oscar Petersen, Zenobia Kloppers, Rodney Goliath, Maurice Carpede, Omar Adams en ander.
DRAMA, REALITEIT EN KOMEDIE
Die oord
Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
2 Junie: Leuens
Nuwe weergawes van die nag kom na vore. Hoe meer mense praat, hoe minder pas die legkaartstukke.
9 Junie: Rigter
Die druk bou op tot breekpunt. ’n Plan misluk, en Rigter besluit hoe dit moet eindig.
16 Junie: Stille waters
Stille waters begin roer. Die waarheid oor die traumatiese nag kom nader aan die oppervlak, en die impak raak almal.
23 Junie: Onder draai die duiwel
Die waarheid bring nie verlossing nie, net gevolge.
Mevrou Fourie & Kie
Sondae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar
7 Junie
Melissa maak plan om Golda se geboorteklas by te woon. Anita en Hardus leer mekaar ken. Ouma en Barry bied ’n oefeningklas aan vir seniors.
14 Junie
Melissa forseer haar familie om ’n ooievaarstee te reël. Anita vergelyk Hardus en Barend met mekaar. Ouma en Barry kook energiedrankies.
21 Junie
Barry en Melissa probeer Anita se blog van Barend wegsteek. Quintin soek werk. Anita sien ’n ander kant van Hardus, en ’n chaotiese braai het nagevolge.
28 Junie
’n Joernalis wil ’n onderhoud met Anita doen oor haar blog. Melissa wil die huis veilig maak. Barend het moeilikheid by die praktyk, en Quintin wil ’n speelraam bou.
Die Toring
Maandae om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar
1 Junie
Terwyl die Jefferson-ooreenkoms aan ’n draadjie hang, jaag die span om Esti te vind. Stygende belange en geheime beproef Theo en Stella se band.
8 Junie
Jessica betrap vir Stella by Theo. Cazz se slinkse plan om op twee plekke gelyk te wees veroorsaak moeilikheid. Die span wend ’n laaste poging aan om Esti te oorreed.
15 Junie
Theo staar toenemende druk in sy verhouding in die gesig.
22 Junie
Ryan se ou liefde wil ’n tweede kans hê. Die span word onder meer druk geplaas om te presteer, en Stella wil dinge streng professioneel hou met Theo.
29 Junie
Ezra veg om CapeHops te beskerm terwyl geheime en ambisie die span bedreig. Stella kry ’n versoek wat haar integriteit toets, en Gabby buk onder Argos se druk.
In die sop: Gastehuisrevolusie
In die sop: Gastehuisrevolusie is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
4 Junie
Die span mik na A Little Guesthouse in Bloemfontein waar die eienaar, Annalie, en die bestuurder, Suelinke, hard werk om die gastehuis te red.
11 Junie
Die span reis na Porterville, waar Lizce die Excelsior-gastehuis op hul familieplaas bedryf. Janie en Willus tree in om dié gastehuis in ’n unieke bestemming te omskep.
18 Junie
Die Homestead-gastehuis in Sasolburg is in die sop, en die eienaars, Marlene en Henry, krap kop oor hoe om die besigheid vorentoe te neem. Kan Janie en Griki hulle help?
25 Junie
Lucresia en Jacques wil graag Strandloper-gastehuis vestig as ’n luukse bestemming in Saldanha, maar hulle het talle uitdagings. Janie en Willus spring in met raad en daad.
LEEFSTYL
Koortjies met Elwira Standili
Koortjies met Elwira Standili word Sondagaande om 19:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
6 Junie
Hierdie week word daar na boelies gekyk. Die kindersiekundiges Russia Davids, Geduld Veldsman en Helgar Roeloefse praat oor die trauma wat dit veroorsaak. Die gaskunstenaar is Daneelle Boois.
13 Junie
Die rolprentregisseurs Mikayla en Jesse Brown kom vertel meer oor hulle projek. Die rapper Shaundeon en die violis Matthew du Toit sorg vir die musiek.
20 Junie
Vir Vadersdag vertel die jong skoolhoof Diego Adams van Hoërskool Valhalla hoe hy pa staan vir sy leerlinge. Sy pa, Dino, kuier saam. Pastoor Dewald Gouws sing die ateljee aan die brand.
27 Junie
Daar word op geslagsgebaseerde geweld gefokus. Suidooster se Char Carrie, Lucinda Evans, pastoor Damaris Kiewiets en Ignachala Haai gesels saam. Nathan Jansen sorg vir die musiek.
SKRYF NOU IN
Die 1%-klub
kykNET het die Suid-Afrikaanse uitsaairegte van die internasionaal hoogaangeskrewe speletjiesprogram The 1% Club bekom en sal die eerste plaaslike weergawe daarvan, Die 1%-klub, teen die einde van 2026 uitsaai.
Dié suksesvolle, oorspronklik Britse reeks is geskep en vervaardig deur Rapid Blue, wat deel van BBC Studios is. Die Afrikaanse weergawe volg die formaat van die oorspronklike reeks waarvan verwerkings ook ’n treffer in lande soos die VSA, Duitsland, Spanje, Frankryk en Australië was. Die formaat is geskep deur Magnum Media en word versprei deur BBC Studios.
Hoe werk dit?
Die 1%-klub is nie jou gemiddelde speletjiesprogram nie. Dit is ’n kompetisie met ’n vinnige tempo waarin 100 deelnemers meeding in uitdagings wat intellek en logiese vermoëns toets. Die speletjie begin maklik – met vrae wat 90% van Suid-Afrikaners behoort te kan beantwoord – maar die moeilikheidsgraad styg vinnig en eindig in uitdagings wat slegs die top-1% van die bevolking waarskynlik sou kon oplos. Die formaat is ontwerp om ratse denke, kreatiwiteit en analitiese vaardighede te beloon, eerder as gememoriseerde feite of ’n breë algemene kennis.
Dié speletjie gaan wys of jy onder die top-75%, top-40%, top-10%, of – as jy deurdruk tot die einde – die elite-top-1% van die land tel, volgens die programformaat se toetskriteria.
Elke deelnemer begin met R1 000. Spelers wat verkeerd antwoord, word uitgeskakel, en hul geld beland in die groeiende boerpot. Namate die speletjie vorder, moet die oorblywende spelers besluit of hulle met ’n deel van die prysgeld uit die stryd wil tree of alles wil waag om te bewys dat hulle deel van die top-1% is. Die 1%-klub is ’n opwindende kompetisie wat ’n kombinasie van strategie en breinkrag onder groot druk verg om sukses te behaal.
Inskrywings is nou oop! Suid-Afrikaners van 18 jaar en ouer word genooi om hier in te skryf. Die reeks sal in Johannesburg verfilm word, en deelnemers moet hul eie vervoer reël.
SEPIES EN TELENOVELAS
Binnelander
Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)
Ella is woedend wanneer ’n nuwe medehoof by Ongevalle aangestel word. Thalia kan nie help om vir Dewald se onweerstaanbare sjarme te val nie. Johan stel ’n plan in werking wat behels dat Tracy deur ’n vriendin misbruik word, en Dewald en Liv hou nie terug wanneer hulle om Henry se aandag meeding nie.
At kry ’n onverwagse besoeker op die plaas, en Conrad is uit die veld geslaan wanneer hy uitvind inligting wat hy gedink het nié alombekend is nie, het reeds sy pa se ore bereik. Een van Binneland se gewildste dokters aanvaar ’n ander werksaanbod. Tracy besef sy is besig om met vuur te speel, maar sy weet nie of sy sterk genoeg is om te stop nie. Daar is dalk nuwe romanse in die lug vir Bonnie, en Le Roux word by Binneland opgeneem.
Diepe waters
Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)
Die verlede kan net nie in die truspieëltjie bly nie. Die terugkeer van Bert en Alisa bring lewensgevaarlike gevolge na die Swarts-landgoed wat niemand onaangeraak sal laat nie. Terwyl die polisie-sirenes loei, word daar ook op ’n emosionele vlak oorlog gevoer.
Dit lyk of Zelda en Frans se verhouding eindelik weer op die regte pad is, maar alles word vinnig deur vrees oorskadu wanneer sy besef dat iemand al haar bewegings dophou. Gaan sy vir Frans dié keer vertrou of hom weer in die duister hou? Of gaan haar geheime alles vernietig? Intussen moet die jongspan kies tussen passie en potensiaal, met verhoudings wat in duie stort onder die gewig van mense se opinies.
Suidooster
Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)
Ava en Nazeem se vurige verhouding kry ’n gevaarlike ondertoon, terwyl Wade, Zoë en Angie sukkel om liefde, swangerskap en verantwoordelikheid te balanseer. Bridgette se beskermingsdrang plaas Zoë onder druk, en Mike se leuens begin sy reputasie bedreig. Tussen al die emosies sorg Bennie se Radio Dassie-oomblik vir ligter vermaak. Bianca, Siya, Kaashifa en Rhafiek wys hoe sensitief geld en goeie bedoelings kan wees.
Skemergrond
Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)
Patty bevind haar in die middel van ’n emosionele warboel wanneer sy begin wonder of sy regtig gereed is vir nuwe liefde. Terwyl sy probeer om die verlede agter haar te sit, ontstaan daar onverwags spanning tussen haar en iemand wat sy nooit só raakgesien het nie. Maar met ou wonde wat steeds nie heeltemal genees het nie, kan Patty haarself maklik weer in dieselfde hartseer situasie bevind. Haar liefdeslewe neem verskeie onverwagte draaie wat kykers behoorlik gaan laat gis oor wie uiteindelik haar hart sal wen.
Dirk is oortuig dat sy nuwe plan groot moontlikhede vir die Louws inhou wanneer hy ’n aftree-oord aan hulle voorlê. Sy planne begin egter vinnig skeefloop. Terwyl Dirk probeer om beheer oor die situasie te behou, sien Christine ’n gulde geleentheid raak om hom in haar eie planne in te trek. Sonder dat Dirk dit besef, is Christine reeds agter die skerms besig met haar eie strategie, wat groot gevolge vir almal betrokke kan inhou.
’n Nuwe gesig sorg vir groot opskudding wanneer Justin, vertolk deur Braeden Buys, onverwags in Gemoedsdrif opdaag. Niemand – veral nie Chelsea en Louis nie – het verwag dat hy skielik deel van hul lewens sou word nie. Chelsea en Louis het intussen ’n verhouding opgebou en probeer stabiliteit vind, maar Justin se aankoms verander alles.