Aktrise Marise Loots wil nes haar Diepe Waters-karakter Selena ’n verskil maak
Die pragtige Selena het die vere laat waai in Diepe Waters.
Toe die beeldskone Selena (Marise Loots) voor die kameras in Diepe Waters (Ma. tot Do. om 18:30 op kykNET) verskyn, het sy nie een nie, maar beide Viljoen-boeties se voete onder hulle uitgeslaan.
Eers was dit Danie (Chartyn van Heerden) wat van Selena gehou het, maar toe raak ouboet Marco (Xander Venter) ook verlief. Aanvanklik het Marco eerste met Selena begin uitgaan, maar nadat hy haar vertroue verloor het deur vir haar te jok, kon Danie eindelik sy gevoelens teenoor haar bieg en haar uitvra.
Selena is baie meer skaam en teruggetrokke as wat sy is, vertel Marise (23). “Sy sal nie sommer net vir iemand sê wat sy van hulle dink of hoe sy oor hulle voel nie. Ek sal dadelik sê as ek byvoorbeeld voel iemand hanteer my nie reg nie.”
En kom sy oor die weg met die twee “boeties” in die regte lewe?
“Ons drie is goeie vriende. Ek is baie close met Xander en Chartyn. Ek en Xander het ook nou in ons persoonlike lewens baie goeie vriende geraak,” vertel Marise.
“Dit is lekker om die dinamika tussen hulle twee te sien, want hulle tree soos regte broers op . . . wat mekaar spot én bystaan,” lag sy.
Vir Marise was dit ook wonderlik om voor die kameras en tussen tonele met Christel van den Bergh, wat Danie en Marco se ma vertolk, toneel te speel en te gesels.
Marise was al in flieks soos Vaselintjie en Musiek vir die agtergrond te sien, en het al talle verhoogproduksies gedoen.
“Dit is baie vinniger as teater, maar Diepe Waters is baie professioneel. Hulle weet wat hulle soek en hoe om dit vinnig vas te vang,” verduidelik Marise.
“Dit is regtig ’n spasie waar jy baie vinnig baie kennis kan opbou en baie kan leer,” sê sy.
Deesdae doen Marise ook modelwerk in haar aftyd en is sy onlangs deur ’n agentskap geteken, waaroor sy baie opgewonde is.
Nes Selena, wat ’n influencer op sosiale media is, voel Marise ook baie passievol oor optrede teenoor geslagsgeweld en om ’n spasie te skep op haar sosiale media waar mense gemaklik kan voel in hul eie vel.
Dus voel Marise ook passievol daaroor om kinders te leer en die nuwe generasie gepas toe te rus vir die grootmenswêreld. Sy is tans ’n finalejaar-onderwysstudent aan die NWU, en gee Engels en Geskiedenis.
Hoewel sy aanvanklik op kampus in Potchefstroom geswot het, doen sy nou haar finale jaar aanlyn om ruimte te maak vir Diepe Waters.
Daaroor is sy nog nie ’n dag spyt nie.
“Dit is so lekker om saam met die amazing regisseurs, akteurs en die span agter die kameras te werk. Ek leer so baie by elkeen, want dit is ’n groep mense wat regtig baie kennis oor die industrie het,” vertel sy.
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.