Akteur Markus Haywood is terug op Diepe Waters
Akteur Markus Haywood daag op in Boskruin as die vriendelike, maar geheimsinnige Wian
Kykers van Diepe Waters (Ma. tot Do. om 18:30 op kykNET) kon ’n sug van verligting slaak toe akteur Markus Haywood se karakter Wian op die kassie verskyn.
Arno (Jean Henry) sukkel al maande om die sorgsentrum Helder Hoop sonder die nodige hulp alleen te bestuur en is toegegooi onder die werk.
Maar kykers se verligting oor dié karakter se koms is verweef met ’n titseltjie verwarring, want hulle moes skepties toekyk hoe hy nie van die begin af oop kaarte oor sy verlede en intensies speel nie.
“Ek is mal daaroor om die donkerder karakters te speel. Ek geniet dit om ’n karakter te speel waar jy aan die begin dink hy is nice, maar dan kom jy agter daar skuil meer agter die storie,” vertel Markus.
Dis juis die ding: Wian blyk sy werk by Helder Hoop ernstig op te neem om die inwoners met joga, meditasie en projekte in die tuin besig te hou.
Dié deel van Wian kan Markus baie mee vereenselwig. “Toe ek die oudisie lees, het ek geweet ek wou hierdie karakter speel, want hy is baie soos ek,” verduidelik Markus.
“Ek is redelik groot in joga en het my training in Indië gedoen en is as joga-instrukteur gekwalifiseerd. Ek is ook groot op meditasie en is ’n vegetariër.”
Natuurlik is die donker en geheimsinnige dele van Wian waar Markus en Wian totaal en al verskil, en dit was hier waar dit vir hom veral lekker geraak het om dié karakter te speel.
“Ek het ook al in my kar geslaap,” lag Markus wanneer hy verwys na die eerste keer wat kykers vir Wian, met lang hare en bokbaard, sien.
Hy groei tans nou al vir sowat drie jaar sy hare langer uit, maar die bokbaard is beslis nuut en iets wat hy tydens die oudisie gedink het goed by die karakter kan pas. “Ek noem dit die Leo DiCaprio. Ons familie kan nie regtig ’n baard groei nie, so die bokbaardjie is maar al wat ek kan doen,” lag hy.
Markus kry deesdae minder tyd vir toneelspel, en werk nou op passasierskepe terwyl hy die wêreld vol reis.
“Dit was definitief ’n hoogtepunt om weer al my vriende te sien. Ek werk meeste van die tyd oorsee, so gewoonlik ’n maand of twee voor ek terugkom probeer ek ’n paar oudisies doen as ’n kreatiewe uitlaatklep.”
Met ses maande op die boot, probeer hy in sy twee maande op vakansie in Suid-Afrika ’n bietjie rus, kuier met vriende en familie en natuurlik toneelspeel.
Markus is tans op die Karibiese See op pad Europa toe waar hulle lande soos Spanje en Frankryk sal besoek. Hoewel hy die “change of scenery” baie geniet, mis hy tog Suid-Afrika as hy op die skepe is.
“Dit was so lekker om weer saam met my vriende te kon werk. Om terug te kom en al die mense te sien . . . daar is soveel akteurs en van die produksiespan saam met wie ek al gewerk,” vertel Markus.
“Werner Coetser (Jacques) ken ek van 7de Laan se tyd af, en Deon Coetsee (Frans) was mos my pa op 7de Laan gewees,” vertel Markus oor sy destydse sepie-karakter, Willem Spies.
“Ek het ook saam met Altus Theart (Rossouw) in Getroud met Rugby gespeel en ek en Abel Knobel (Liam) het ’n storielyn op Binnelanders gehad ’n paar jaar terug.”
Dit was ook vir hom lekker om Christel van den Bergh (Leandri) te sien. Dié twee was jare gelede saam in skrywer en regisseur Christo Davids se teaterproduksie Harry & Jackie: Tussen die bokse te sien.
“Die regisseurs, akteurs en produksiespan op Diepe Waters is fantasties, ek het so lekker saam met hulle almal gewerk,” sê hy.
Wie sê dis “vakansiewerk” as jy dit só baie geniet.
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.