Mag, ambisie en gevaarlike geheime bots in telenovela Die Toring

kykNET 08 April 2026

Nuwe telenovela Die Toring begin 13 April om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream. 

Mag, ambisie en gevaarlike geheime bots in telenovela Die Toring

Die Toring, ’n Showmax Original, is ’n verwikkelde verhaal wat afspeel in die haaitenk van beleggingsbankwese wat Maandag 13 April om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin.  

In ’n elite-firma in Kaapstad moet ’n groep ambisieuse junior ontleders mag, begeerte en gevaarlike ambisie navigeer terwyl hulle meeding om sukses en stoei vir selfbehoud.

By Meyer Peterson Investments (MPI) hang oorlewing af van hoe vinnig jy kan aanpas, manipuleer en die leer kan klim. Die Toring trek kykers in hierdie stylvolle maar genadelose hoëdrukwêreld in, waar see-uitsigte, ’n eksklusiewe naglewe en blink sukses die slapelose nagte en stil ineenstortings verbloem.

Vier junior ontleders bevind hulle in ’n moordende wedloop om die topposisie. Ambisieus, briljant en erg wanfunksioneel, ontdek hulle gou dat sukses in hierdie arena veel meer as net intelligensie vereis.

Stella Fredericks (Franka Kirby: Mince jou hare, Diepe waters) is pragmaties en het haar voete stewig op die aarde. Sy is vasbeslote om ’n toekoms vir haarself te bou wat verder strek as haar beskeie grootwordjare in Caledon. Met die toenemende druk om te presteer, word sy egter al hoe dieper ingetrek in ’n wêreld waar ambisie haar waarneming van die werklikheid begin verdraai en haar morele kompas laat wankel.

Haar mede-ontleders, Theo Burger (Jan Combrink: Summertide, Juffrou X), Cassandra Fouché (Nichola Viviers: My f*k, Marelize) en Ezra Grootboom (Cantona James: Arendsvlei, Spinners, Breekpunt), is net so gedetermineerd om hulself te bewys in ’n bedryf wat ambisie beloon maar kwesbaarheid straf.

Die nuwe generasie word gelei – en dikwels gemanipuleer – deur senior bestuurders, Gabriella Mulder (Marguerite van Eeden-Harris: Wyfie, Plan B, Afgrond, Fynskrif) en Ryan Petersen (Adrian Steyn: Getroud met rugby, Wyfie, Binnelanders, 7de Laan), terwyl die formidabele uitvoerende hoof, Argos Meyer (Deon Lotz: Reyka, Binnelanders, Skemergrond, Trackers), met ’n ystervuis regeer en geld as beheermiddel inspan.

Saam met hulle op die korporatiewe slagveld is komplekse karakters soos die uitvoerende- finansiële hoof, Yolanda Strauss (Jolene Martin: Getroud met Rugby, Arendsvlei), Argos se lojale persoonlike assistent, Chantal du Preez (Nicola Hanekom: Hans steek die Rubicon oor, Binnelanders, Die Byl, Sara se geheim), en sy seun, Du Toit Meyer (David Viviers: Binnelanders, Troukoors, Desert Rose, Tali’s Baby Diary), wie se soeke na sy pa se goedkeuring hom duur te staan kom.

“Hierdie is ’n wêreld wat Suid-Afrikaanse televisie nog nie voorheen gesien het nie,” sê die kreatiewe vervaardiger, Andréa Frankson-Titus. “Die reeks speel af in die hoëdruk-arena van beleggingsbankwese en is vinnig, sexy en skaamteloos vermaaklik. Ons is ongelooflik opgewonde om kykers in hierdie wêreld in te neem met gevestigde akteurs sowel as ’n nuwe generasie vars talent.”

Die hoofregisseur, Catharine Cooke (Summertide, Reyka, Legacy, The River), sê: “Die Toring is ’n simbool van mag, geld en genadelose ambisie, en soos wat ons vier jong beleggingsbankiers sukses nastreef, word hulle al hoe dieper ingetrek in die gevaarlike geheime en morele kompromieë van die bedryf se elite – en ontdek hulle dat oorlewing in hierdie klimtog hulle alles kan kos.”

Die regisseur en medevervaardiger Mandilakhe Yengo beskryf die reeks as “ ’n verkenning van daardie eerste jaar in ’n korporatiewe omgewing deur die oë van ambisieuse blinkoog-ontleders – gevul met skandale, drama en samesmeltings in die raadsaal én in die slaapkamer. Dit was pret om te maak en sal net so lekker wees om te kyk.”

Die medeskeppers en skrywers van die telenovela, Igna Botha en Meesha Aboo, voeg by: “Ons het inspirasie geput uit die meedoënlose kultuur van beleggingsbankwese – ’n wêreld waar mense vinnig moet dink en ewe hard moet werk as partytjie. Dit het gevoel soos die perfekte arena vir plofbare liefdesverhale en gewaagde dramatiese wendings.”

Die Toring verken temas soos ambisie, identiteit, wraak, verlossing en die gevaarlike aantrekkingskrag tussen ware liefde en geheime verhoudings. Dit vra wat gebeur wanneer sukses ’n obsessie word – en wanneer oorlewing in die stelsel jou siel kan kos.

Die Toring word vervaardig deur Paw Paw Films, Penguin Films se sustermaatskappy, bekend vir produksies soos Diepe waters, Sara se geheim, Wounds, Isikizi, Ingoma en Saints and Sinners.

Die Toring is ’n Showmax Original en sal beskikbaar wees in die Showmax-afdeling van die DStv Stream-app, asook op kykNET. Namate Showmax aan die einde van April 2026 tot ’n einde kom, kry Showmax Originals en nog meer ’n nuwe tuiste op die DStv Stream-app. 

Back to News